Thursday, April 30, 2009

Verrassing uit die Cederberge

So tydjie terug is ek besig om bietjie Saugvignon Blanc by Checkers vir vroulief aan te skaf, toe my oog 'n bottel genaamd Cape Atlantic vang. Soos ek tevore al gese het ek is nie juis 'n witwyn drinker nie, maar vroulies is baie vol nonsense as dit by haar saugvignon blanc kom, ek drink baie makliker plonk as sy. Uit pure nuuskierigheid gooi ek toe vir my ook 'n glas van die wyn, en tot my verbasing gaan dit heel goed in die rooiwyn keel af, maar die toets kom nog, vroulief moet nog sluk. Vroulief se gesig helder op na die eerste sluk, en ek word aangesê om die volgende dag 'n klomp van die bottles te gaan koop, want "dis nie 'n R30.00 wyn die nie, en dit sal nie lank die prys bly nie" volgens vroulief.

Ek bekyk toe die bottel van alle kante om te sien wie se wyn dit is, die enigste leidraad op die bottel is die web address, http://www.cederbergwine.com/. Ek kyk in die John Platter boekie, en die naaste is Cedeberg Private Cellars, maar daar is geen woord oor 'n wyn genaamd Cape Atlantic nie. Internet toe, ek kry 'n email address, wat my lei na ene Pieter du Toit. Ek vra hom toe of dit dieselfde as hulle Cederberg Saugvignon Blank is, en binne enkele minute antwoord hy my soos volg.

"More Barry,

Dit is al die wyn (Sauv) wat David dink nie geskik is vir die Cederberg reeks nie. Uit die aard weet jy dat ons nog 'n SAUV maak, nl David Nieuwoudt Ghost Corner Sauvignon Blanc 2008 - lg se druiwe gaan haal hy met 'n koeltrok in ELIM.

Die ironie is nou: Die DN GC het Veritas dubbelgoud gekry saam met die Cederberg se Sauv. Vir die Veritas skryf ons nie die Cape Atlantic in nie, maar ons doen dit wel vir die Wine Mag se Sauv Challenge en toe gaan kry beide die DN GC en die Cape Altantic vier sterre en is die twee onder die top 13 uit 185. Die Cederberg Sauv het drie sterre gekry.

Soveel panele, soveel punte ...

Groete

Pieter"

Terwyl ons toe nou op die wyn topic is, en hy sy email so lekker vinnig beantwoord, toe vra ek hom sommer bietjie uit na 'n paar ander goed, en weereens antwoord hy blitsig met die volgende.

"Barry

In die Platter is ons bloot Cederberg Private Cellar.

Die Cape Atlantic is nie daar in nie, want ons het begin om dit te maak as 'n Weskus-wyn en wou dit aanvanklik nie daardie blootstelling gee nie, maar toe ruk dit positief hand uit - die Ghost Corner is wel daar in. Hier is die pryse op die plaas - van die drie verskillende Sauv's:

Cape Atlantic - R30

Cederberg - R75

DN GC - R120

Die DN GC SAUV is oral uitverkoop - dalk is daar nog daarvan by een van die Caroline's in die stad en dalk nog by die Wijnhuis in Stellenbosch. 'n Uitstaande wyn, maar nie tipies SA Sauv nie - dit gaan ook baie beter drink soos wat dit ouer raak.

Wat rooi aanbetref maak ons drie rooies in die Cederberg reeks:

Cederberger

Cabernet

Shiraz

Die Shiraz noem ek "the tail that wags the dog" - die wyn het elke moontlike prys al geneem wat daar is: Best rooi in SA in 2004 en beste Shiraz in die wereld by Decanter in 2008. Die Cab is die wynmaker se gunsteling en koop versamelaars dit graag en die Cederberger is 'n rooi versnit: Merlot, Pinotage en Shiraz.

'n Wenk: As jy rooi in die somer drink - sit dit vir 'n kort ruk in die yskas - nie so koud soos wit nie. Soos wat dit in jou glas afkoel, beweeg jy deur versillende geure - fantasties. Ek drink deserdae al my rooie omtrent net so. Onthou dat as jy 'n "af" rooi wyn het (betreffend kwaliteit) bedien dit kouer.

Groete

Pieter

... dankie vir die belangstel."


Dankie vir die vinnig antwoord, en die interesante feite Pieter,

Liewe vriende vat my woord hiervoor, pak gerus 'n paar van die botteltjies in as julle weer aan de wyn koop is, spyt sal julle nie wees nie. Maar nou die ander dag toe sien ek die Cape Atlantic label op die rooiwyn rak in die winkel, en ek wonder wat vang die mense nou aan. Met nadere ondersoek blyk dit toe 'n Merlot te wees, en ek sit my volle vertroue in Pieter en die wynmaker David van Cederberg Private Cellers, en koop 'n paar, ongeag die feit dat ek nie gereeld Merlot koop nie, maar spyt was ek glad nie, Ek het alreeds vir Pieter gemail om te hoor of daar 'n lekker storie is oor die Merlot, en in tipiese Pieter styl het hy baie vinnig geantwoord, hy is tans in die stad, maar sal sodra hy terug is op die plaas al my vrae in detail beantwoord. Moet nou nie wag tot Pieter ons antwoord nie, die storie is dat jy maar die Merlot kan koop, en dan laat weet jy sommer hoe jy hom geniet het. Sodra Pieter antwoord, vertel ek julle wat hy sê, maar net vir die wat my laat weet hoe die merlot smaak.

Lekker drink

Potjie





Wednesday, April 29, 2009

Alice se D’Aria broodjie



Soos ek gister gesê het, wil ek julle vandag vertel van my enigste paar minute in die kombuis die naweek wat verby is. Nou ek gaan julle nie verveel met 'n groentesop resep nie, ek is nie eers seker of mens 'n groentesop resep kry nie, jy gooi in waarna jy voel en wat in die huis is, solank dit aartappels, uie en seldery insluit, en vleis vir my asb. Kan nie verstaan hoe seldery so sleg smaak in slaai, maar so lekker smaak gee aan sop nie, maar dis hoe dit is, my swaer in Kanada sou gesê het, "it is what it is" ala een of ander yshokkie ster, ai ou Gidius ek wens ek kon vir jou so lekker skaap tjoppie gebraai het op jou onlangse verjaarsdag, en ek sou persoonlik gesorg het, dat sus Hannelie nie die bord bemors met 'n klomp blare nie, net tjops en wors vir my swaer op sy 50ste, en 'n braaibroodjie, sorry swaer ons eet nog steeds nie pap in die Kaap nie.


Maar laat ons by die brood uitkom. Vroulief se oor vang toe vrydag 'n broodresep terwyl sy rondry en RSG luister, ek dink sy het gese RSG, maar dit was een of ander radiostasie. Daar is vir 'n klomp van die wynplase in die Durbanville wynvallei gevra om 'n spesiale brood te bak, en die brood sou dan be-oordeel word deur die radio stasie. Een het wyngis gebruik, 'n ander het special late harvest in die brood gebruik, maar die wenner was D'Aria, ek weet nie of dit die sjef van die Poplars restaurant se skepping is nie, maar geluk aan wie s'n dit ook al was. Miskien kan iemand van D'Aria vir ons vertel wie se skepping dit is.


Ek was oortuig vroulief het nie lekker geluister nie, of iets gemis, want die resep wat sy aan my oorgedra het gaan soos volg. Koop 'n pakkie brooddeeg by die winkel (dit sal vermoedelik werk as jy self die deeg aanmaak) maak bolletjies van die deeg, pak die bolletjies in 'n swartpot. Neem een koppie room en los drie teelepels marmite daarin op, nou die enigste manier wat ek kon dink om marmite te laat oplos in room was om die room effens warm te maak, dis hier waar vroulief nie te veel aandag aan die detail gegee het nie. Gooi die koppie room en marmite oor die deeg rolletjies, en maak gaar in die oond of oor die vuur, ek het dit so 1 uur teen 180 grade celcius gebak, en dit was perfek, bleddie lekker om die minste te se.


Ek moet erken dat my verbasing groot was oor die resep wat gewerk het, want ek was oortuig vroulief het iets gemis, die marmite oplos in die room is nog steeds vir my raaiselagtig, maar dit was heerlik, dankie D'Aria! En vroulief vir die mooi onthou.


As julle bietjie wil loer na D'aria se menu (Poplurs Restaurant) an hulle wyne en die shows wat hulle hou, gaan na http://www.daria.co.za/, hulle het selfs hulle hele menu met pryse en al op die site, well done D'aria.


Vir die van julle buite ons land se grense, wat se monde nou water, ek hoop julle kry marmite êrens in die hande.


Heel onder op die blog is daar 'n opskrif genaam "Hier woon ons kos vriende op die internet", van nou af sal ek al die links daar bêre van kos en wyn plekke wat ons oor gesels het, en D'Aria is dan ook die eerste link wat hier verskyn.


Lekker eet


Potjie

Tuesday, April 28, 2009

Verban uit die kombuis

Die lang naweek is verby, dis dinsdag maar dit voel soos maandag, gelukkig is die week net drie dae lank dan kan ons weer verwoed kook en kuier.


Ons is die naweek weg saam met vriende, en hulle het besluit hulle treat ons vir ons die naweek, en ek mag niks doen in die kombuis nie, vir sommige mag dit na hemel klink, maar dit is loutere hel, 'n mens kan net soveel keer vir mense drank ingooi voor dit ook nie meer so lekker is nie, my hande jeuk om 'n pot vas te hou, en 'n mens drink ongelooflik vinnig as jy drink maar nie kook nie.

Die main meal was staek, fillet en ribeye, met Doneel se spesiale sous, terwyl Ricky braai, en ek toekyk sonder om 'n woord te se, geen met raad en daad bystaan nie, net kyk, en aan my rooiwyn teug.

Die special sous begin met witsous maak, dan kaas bysit om dit 'n kaassous te maak, en dan kom vooraf gebraaide sampioene en shrimps by, daar was 'n bygereg van sampioen wat in knoffel botter gebraai is, so ek is nie heeltemal seker of daar knoffel in die sous ook was nie, maar ek glo nie dit kan kwaad doen nie. Dan nog bygereg van gebraaide aartappels en 'n slaai. Nou nie die sous wat jy gereeld vir iemand met hoё kolestrol gaan maak nie, maar ryk en lekker, met die steak nog so rooi in die middel, ai man, moeilik opgestaan van die tafel af. Vir vroulief wat 'n sousmens is, en toevallig haar verjaarsdag op die dag gevier het 'n mooi ronde getal, as ek reg is, 20 0f 30 of so, was dit pure plesier. Dankie Doneel en Ricky.

Vandag verjaar skoonsus Crista ook bekend as soetrissie, baie geluk skoonsus, so gister het ons, ons daar ooreet, en swear Roy het my op my neus laat kyk deur self te braai, moet sê 'n heel goeie job gedoen, en sus Christa het uitgehang met aartappel gereg, pampoentert en sweetcornbake, en te veel om alles te onthou, poeding was daar ook, brownies met roomys, sus dit was nie dat ons nie poeding wou eet nie, ons kon nie meer eet nie, ek het probeer, en dit was heerlik, maar daar is net soveel plek in elke maag.

Nou kan julle dink, die heel naweek moes ek die kookery aanskou, en ek mag nie 'n hand lig nie, behalwe vir 'n sop wat ek vrydag aand gemaak het, en 'n nuwe broodresep, maar dit is more se storie.

Lekker eet

Potjie.

Friday, April 24, 2009

Daar is geen haas

Toe ek vandag weer begin rondbel om te kyk waar ek 'n haas of twee kan koop, toe onthou ek weer van my eerste kennismaking met haas se kind. Ek het jare later in Frankryk geleer dat haas heerlik is, maar terug na lank terug.

Een aand sit ek en vriend Karl met 'n glas rooiwyn, knuppel dik geёet aan 'n gebraaide hoendertjie, vir Floyd en dophou op die TV. Die half dronk kok op TV inspireer toe twee ander half dronk mans tot groot hoogtes. Net daar besluit ek en vriend Karl, nou bel ons mens, en saterdag hou ons "cookout", en so kry ons toe hannevol manne en vroue wat wil en blykbaar kan kook bymekaar vir die "cookout".

Nou kyk, as jy deel is van die reelings komitee, dan kan jou kos nou nie agterbly nie, en ons beplan toe 'n menu van epedermiese proporsies, met die hoogtepunt 'n haas op die spit. Ek kan onthou daar was baie kos, en baie wyn, maar om die dood kan ek nou nie onthou wat daar alles was nie, maar vir haas onthou ek. Haas kry toe plek in 'n marinade so hier van donderdag af, spit word aanmekaar gesit, nuwe batterye gekoop, alles reg vir saterdag.

Saterdag breek aan, en ek en Karl kan nie wag om haas op die kole te kry nie. Maar heelhaas, die haas wat ons daar by die Duitse slaghuis gaan koop het, weier volstrek om sag te word, die wyn begin later min te word, die mense ongeduldig, want hulle disse moet nou geёet word, maar my en vriend Karl se bleddie haas draai en draai op daai spit, maar sag word is min, hy is later so lank op die kole ons sou 2 tarentale sag kon kook in daai tyd, maar taai bly die ding.

Uit pure moedeloosgeit haal ons later die haas af, sny hom in stukke, en verklaar hom gaar, maar o genade, die enigste ding wat ek nog ooit geёet het wat taaier was as daai haas, was jare later, 'n volstruis nek wat iemand niks langer as 2 en ½ minute gekook het nie, maar dis 'n ander storie.

Dit het my baie jare geneem om my hand weer aan haas te waag, soos ek gese het eers in Frankryk met 'n lyf vol inspirasie van daai wonderlike markte, ek verlang sommer soontoe. Ons het 'n resepteboek daar gekoop, wat direk uit Frans in engels vertaal is, dit was baie snaaks, maar die resep het my gewys dat haas heerlik is, en nou sukkel ek altyd my dinges af om haas in die hande te kry.

Hier is die haas resep uit die Franse boek, presies soos dit daar staan, die resep was een van die beter vertaaldes.


(Resep kom van die Hostelleri de l'Abbaye de Saint-Michbel-de-Friglolet, Tarascon)

Rabbit with Anchovies

For 6

1 rabbit approximately 1 kg 400 grams (3.2 lbs)

400 grams (1 lb) tomatoes

150 grams (1/2 cup sliced) carrots

60 grams (2.5 oz) anchovies

1 head of garlic

150 grams (1 cup diced) onions

200 grams (8 oz) small onions

1 bouquet garni

20 cl (3/4 cup) chicken stock

20 cl (3/4 cup) veal stock

40 grams (3 tablespoons) butter

50 grams (3 tablespoons) sugar

20 cl (3/4 cup) white wine

olive oil

salt, pepper


Carve up the rabbit, and brown it in olive oil.

Add the chopped carrots, diced onions and anchovies.

Deglaze with white wine and let reduce by two thirds.

Moisten with the chicken and veal stocks.

Add the peeled garlic cloves, the bouquet garni, the peeled and seeded tomatoes.

Salt, pepper and stir in a bit of butter.

Apart, peel and glaze the small onions with sugar and water and then add them to the rabbit at the last moment.

Cook the rabbit for 1 hour and 15 minutes or so.


Lekker eet

Potjie

Thursday, April 23, 2009

Winter met die skoonfamilie




Dit is koud en nat, en na die eerste amper wintersdag onthou ek hoekom ek 'n sonskyn kind is, ek voel klaar depressed na 'n paar ure van nie die son sien nie, maar ten minste maak die gedagte van winterskos my smile.

Bredies, en kerries en sop, kos wat die hele huis na kos laat ruik, kos wat 'n weersin aan witwyn het, rooiwyn ja, of port is wat hulle vra. Soos daai kerrie piesang oxtail waarvan my vriend Karl gese het, "mens eet g'n vrugte saam met kos nie" en hom toe so oorhoeks daaraan geeet het, dat hy 3 dae later nog ongemaklik was. Kyk ek voel trots op daai oxtail, maar as jy nou wit weet hoe moet oxtail nou regtig smaak, smeek my skoonsus Dalene om dit vir jou te maak. Sag, sag sit dit net-net nog so om die been vas, een druk met 'n vurk en daai been is silverskoon, so kerrie speserye mengsel wat sy bysit, wat 'n groot lekkerte, soms laat sy haar man toe om dit so ruk in sy potjie te sit vir die laaste bietjie kook, sodat hy kan glo hy het dit gemaak, maar groot 'seblief moenie se ek het so gese nie.

Nou moenie pastei weggooi as winterskos nie, en as skoonsus Crista my vergeef het omdat ek haar soetrissie gedoop het, dan vra ons haar vir haar hoender pastei, glo net woolies hoender is goed genoeg, ek weet nie of die stukkies ham wat daarin is, van Italie of Portugal af ingevoer word nie, maar ek is seker daar is een of ander gehein daaromtrent. Man groot lekkerte, ek beloof jou.

Nou ek hoor skoonsus Marieta kan na al haar jare daar in Durbs se wereld 'n mean kerrie maak, maar dit is hoor se, nog nooit geproe nie, en ek hoor daai skoonsus wat my vrou so vinnig na toe wegraak in die aand, kan ook kook, maar swaer Ferdie het die takie oorgevat, hy't belowe hy gaan vir ons nog 'n resep hier gee, maar ons sal dit eers moet toets, die ou kan nogal 'n mean streep in hom he, en ek wil nie moeilikheid optel nie.

Vir swaer bokka, ook soms Neels genoem, se kerrie afval kan ek self getuig, hy mag maar, pote en pense is sy ding, dis nou as hy nie besig is met snoek braai nie. Nou my ander swaer genoem Marius of groot broer, hy is die braai man, maar as jy honger is oppad na hom toe, koop maar eerder 'n pie of 'n ding, want gou gaan jy nie eet nie, lekker ja, in oorvloed ja, maar gou, nee my ou maat, nie maklik nie.

Van Lance alias Roy, het julle al gehoor, of hy kan kook die weet ek nie, hy se hy het al gebraai, maar so tussen die boere kry die soutie maar min kans vir braai, selfs by sy eie huis laat hy ons braai, sonder meimering, nou nie dat Marius eintlik toestemming vra of hy mag braai nie, hy braai. Met stokke moet jy hom verdryf, en met kettings vasbind, en dreig dat jy Durbanville Hills gaan afbrand om hom weg te hou van die braai af. (Nee DH behoort nie aan hom nie).

Sjoe, julle, nou is ek bleddie honger, sal maar gou hoor of die porra vroutjie hier op die hoek vandag sop gekook het, laat weet bietjie wat is julle gunsteling winters kos.

Ns. Dankie Dalene vir die colage van die family.

Lekker eet

Potjie.

Wednesday, April 22, 2009

T-Bone op verkiesingsdag

Ek het gedink dit sal gepas wees om ‘n T-Been, om nou mooi Afrikaans te praat, op verkiesings dag te eet, want staan ons nie vandag meer as ooit tevore voor ‘n t-pad in die sonnige land van ons se toekoms nie. 1994 sal sekerlik onthou word as die jaar waarop ons demokrasie gebore is, waar die wereld gewag het om te sien of die pot (ek wou se swart potjie, maar dit sou nie reg wees nie) gaan oorkook, en dit het nie, in baie se oё, was dit ‘n wonderwerk.

Vandag staan ons nie by die t-been van oorlog of nie, maar wel of die demokrasie gaan hou, gaan ons land brand of te rou wees, of gaan ons dit dit perfek regkry, daai vetjie so effens geskroei en die vleisie nog so pienk en sappig in die binnekant. Politiek en godsdiens is nie etenstafel gesprekke nie, of so se hulle, ek weet nie, ons moet tog op een of ander tyd besluit oor watter spice ons in die kos gaan gebruik.

Net so seker as wat mens nie steak sonder swart peper (jammer maar regtig, wie eet nou wit peper op steak) kan eet nie, net so seker is Zuma more ons volgende prez, die vraag is wat gaan ons nog bysit, sout is na elk se smaak, en wat jy bysit gaan die steak maak of breek, te min en die peper gaan oordonder, te veel sout en jou bloeddruk gaan dit nie hou nie. Vandag was daar baie spice van om te kies, ek hoop julle het reg gekies, wat reg ook al is, ek dink as jy vanaand kan gaan slaap met ‘n skoon gewete oor waar jy jou kruisie getrek het, dan het jy reg gekies, hoopenlik het ons genoeg verskillende smake dat daar iets te ete is vir elk van ons.

Nou dat die maklike vrae uit die weg geruim is, die moeilike een, gaan ons vuurmaak vir die t-bones, of gaan ons die swart riffel plaat wit warm maak, en dit daarop braai, julle slim manne en vroue sal hier moet help besluit. Ek gaan solank ‘n bottel wyn oopmaak.

Lekker eet
Potjie

Tuesday, April 21, 2009

Oorskiet

Vroulief is uitstedig, so ek eet vanaand my vriend skepskop se gunsteling kos, genaamd oorskiet. Bietjie boontjie bredie van saterdag, bietjie skaapboud van sondag en 'n sny brood of twee, die rooiwyn is eers vanaand oopgemaak, snaaks hoe daar nooit oorskiet wyn in die huis is nie.

Het julle al ooit agtergekom hoe mense altyd se dat bredie of kerrie altyd lekkerder smaak die volgende dag, nou ek gaan nie stry met die stelling nie, eerstens omdat ek waarskynlik al self daai woorde ge-uiter het, en tweedens hoe meet mens lekker, neem nou afval, vir een koningskos vir 'n ander onverstaanbaar dat enige een dit kan oorweeg om dit oor hulle lippe te bring.

Die punt waar ek wil uitkom is, as bredie of kerrie lekkerder is die volgende dag, hoekom kook ons dit nie 'n dag tevore nie, ek meen ons wil mons kos op hulle lekkerste eet, nie net die bietjie wat toevallig oorgebly het nie, nou eek weet nie van julle nie, maar ek ken niemand wat kos 'n dag voor die tyd maak nie, behalwe vir die kerkbesaar, of een of ander fees.

As lekker dan nou nie gemeet kan word nie, dan is dit sekerlik oraait om dit relatief te noem, so die omstandighede waarin ons kos eet, kan 'n invloed he, oor hoe lekker of al dan nie kos vir ons is. Vra nou maar vir 'n stormer ondersteuner wanneer laas het hulle 'n lekker boerewors roll op 'n saterdag geeet het, wys my een wat jou kan vertel, en ek wys jou 'n opperste liegbek. Nou my persepsie oor hoekom oorskiet soveel lekerder is die volgende dag is as volg. Die kosmaker het geen stress oor of die mense van die kos gaan hou of nie, want hy het reeds die andwoord op die vraag 'n aand of wat tevore gekry. Die nie kosmakers is nie gestress oor wanneer hulle uitendelik gaan eet nie, want die kos kan net warm gemaak word, so 'n huis gestroop van stress, ontspannend met 'n glas rooiwyn en 'n bord oorskiet, wat my laat wonder of ek nie dalk vannaand moes gekook het nie, dink net aan die moontlikhede vir more aand as vroulief weer by die huis is…

Lekker eet

Potjie

Monday, April 20, 2009

Oor patats vir poeding en sjokolade vir voorgereg.

Uit vrees vir vergelding sal ek name weerhou in die storie. Daar word juis gefluister van beledigings rondom braaivleis vure en manne wat mekaar wil skiet, maar dit mag twee verskillende stories wees.

My swear, kom ons noem hom sommer Lance, kan nou nie juis beskuldig word van taktvolheid nie, wat nogal goed kan wees as jy van die waarheid hou, maar die meeste van ons verkies mons die waarheid verbloem onder ‘n lagie sjokolade. Een ding kan ek julle vertel, Lance hou nie van sy koedoe steak verbloem onder sjokolade sous nie. Ek het laas iemand so gesig sien trek trek, na ek in die kango grotte in is, na ek in ‘n bol volstruis mis geval het. Hy was oortuig ek het te veel rooiwyn gedrink en die poeding en voorgereg saam bedien, wat nog steeds die poeding bleddie sleg sou maak, want ons het ‘n oorvloed soet melk sjokolade in die land, so hoekom sal iemand bitter chillie sjokolade met rooiwyn verdun wil eet.

Nou dit bring my by die patats vir poeding storie. Lance se vrou Soetrissie (anders as die meeste soetrissie souse kan die een deur al haar sweetgeit nogal ‘n byt he) vertel dat die eerste keer wat sy vir Lance kos opgeskep het, was die ou baie ontsteld dat die stupid boere hulle poeding (soet patats) saam met hulle kos inskep, Lance sukkel nou nog om te glo dit tel regtig as groente.

Genoeg geskinder van die skoonfamilie, terug na vrydagaand, ek dink die Morrokaanse lamsboud was sukselvol genoeg dat ek soos belowe vir julle die resep sal gee, ek het die een van die internet afgekry, so ek sal seker darm nie opgesluit word as ek dit met julle deel nie. Ons was 8 mense, wat 5 families verteen woordig, julle maak self die somme, ek vertel net die storie. Ek het twee lamsboude gebruik, wat beteken dat dit dit nie in my tagine kon pas nie, so ek het die braaibak gebruik, dit neem langer, en my gevoel is dat die tagine meer van die vog behou as die braaibak, of soos hulle in Welgemoed daarna verwys die kaserol, ek is nie so seker van die spelling nie, in elkgeval het iemand soos Mark Twain gese dat jy niemand kan vertrou wat nie elke woord op ten minste 3 maniere kan spel nie.

Ok, so hier is die resep, waar ek nie die afrikaanse name ken nie, sal ek maar die engels gebruik.

1 Koppie grof gekapte vars koljander blare
1 Koppie vars mint blare
1 Koppie ligte olyf olie
¼ Koppie gekapte geskilde vars gemmer
8 Geskilde knoffel huisies
4 Teelepels gemaalde cumin
2 Teelepels gekraakde swart peper
2 Teelepels cardamom sade of 16 heel cardamom pods
1 ½ Teelepels allspice
1 ¼ Teelepels sout
1 ½ Teelepels gemaalde borrie
1 Teelepel gemaalde koljander
3 Groot rooipepers in kwarte gesny in die lengte
2 Rooi uie in 6 skywe gesny van die stingel se kant af.
2 Groot Yams geskil en in 3cm skywe gesny (Nee ek ken ook nie ‘n yam nie, die ding lyk baie soos ‘n patat en word ook op dieselfde manie voorgesit, maar is blykbaar nie familie nie, maar dis wat ek gebruik)
Ontbeende Lamsboud van so 2 ½ 3 kg (Dis ‘n baie groot lam)
3 ½ Koppies hoender aftreksel
1 1/3 Koppie couscous

Verpult eerste 12 bestandele in jou voedsel verwerker, Gooi die rooipepers, uie en patats (yams) in ‘n groot oondskottel met ‘n ½ koppie van die kruie puree. Maak plek in die middel vir die lamsboud(e) . Sit die boud vet kant na onder in die pan. Vryf ½ koppie van die kruie puree in die binnekant can die lam, maak seker jy bedek die vleis orals. Draai die vet kant nab o en vryf res van die puree bo-oor. Sit in yskas oornag, en haal 2 ure voor jy dit gaan gaarmaak uit, sodat dit weer kamer temp kan bereik.

Sit oondbak on onderste derde van jou oond wat verhit is tot so 220 grade C. Stel oond af na 180 grade C, en rooster vir so 1 uur en 10 minute, of tot so sag en gaar as wat jy daarvan hou.
Sit die boud in ‘n opskepbak , skep groente rondom, sit foil bo-oor om warm te bly. Gebruik die sous in die oondpan en 2 koppies van die hoender aftreksel en kook tot daar so koppie en ‘n half oor is, en gooi in jou sousbakkie.

Gebruik die ander koppie en 1/3 en so eetlepen van die spice puree om die couccous gaar te maak, skep tussen die groente in die opskep bak, bedien.
Soos gewoonlik het ek nie die resep 100% gevolg nie, maar ek is seker as jy wil kan jy en dit sal werk. Passop net, ek weet nie van die yams nie, maar die patats maak ‘n klomp water, ek moes van dit afskep, hou maar dop of soek ‘n yam.

Lekker eet

Potjie.

Friday, April 17, 2009


Die koedoe steak is in die olyf olie en suurlrmoen sap, so die groot besluit is hier. Wat vir hoofgereg of dalk ‘n paar kleiner geregte wat na mekaar bedien word. Skaap stertjies, maar dis ‘n ding wat jy hande voor moet gebruik, en daai een skoonsuster van my eet nie eers ‘n toebroodjie met haar hande nie, so dit gaan nie werk nie. Skaapboud, nee lamsboud, ja lamsboud, met ‘n moroccan rub, olyf olie en mint, met peppers en bietjie groente en couscous. Nou dit klink na ‘n plan.



Nou so gepraat van Morocco, daars ‘n peper genaamd long pepper, man ‘n lekker peper, maar half van ‘n ontmoontlikheid om in die hande te kry as jy nie pel het wat daar gaan kuier nie, so 'seblief as een van julle daar gaan kuier, bring saam, sakke en sakke vol.



Ek kan aangaan en aangaan oor Morrokaanse kos, en as die lamsboudjie suksesvol is, sal ek die volledige resep maandag vir julle gee, maar my ou maat, ‘n tagine is ‘n ding wat jy selfs ‘n tarentaal in kan sag kry, as jy nie een het in jou kombuis het nie, koop een, vandag nog, skaapskenkel of nek, beesvleis, hoender of vis, hulle werk in die ding van die Morakane, en tussen my en jou, vark ook, jy gaan net nie ‘n resep kry vir daai een nie, Moslem land daai, vir vark moet jy maar dat jou gevoel jou lei.
En as julle dalk wonder of daai ribbetjie gisteraand gebeur het, ja hy het, met growwe sout en peper, en rosemary, vet lekker uitgebraai, met ‘n lekker skep kerrie boontjies en beet, heerlik man, heerlik.
Lekker etende naweek

Potjie
Die koedoe steak is in die olyf olie en suurlrmoen sap, so die groot besluit is hier. Wat vir hoofgereg of dalk ‘n paar kleiner geregte wat na mekaar bedien word. Skaap stertjies, maar dis ‘n ding wat jy hande voor moet gebruik, en daai een skoonsuster van my eet nie eers ‘n toebroodjie met haar hande nie, so dit gaan nie werk nie. Skaapboud, nee lamsboud, ja lamsboud, met ‘n moroccan rub, olyf olie en mint, met peppers en bietjie groente en couscous. Nou dit klink na ‘n plan.

Nou so gepraat van Morocco, daars ‘n peper genaamd long pepper, man ‘n lekker peper, maar half van ‘n ontmoontlikheid om in die hande te kry as jy nie pel het wat daar gaan kuier nie, so 'seblief as een van julle daar gaan kuier, bring saam, sakke en sakke vol.

Ek kan aangaan en aangaan oor Morrokaanse kos, en as die lamsboudjie suksesvol is, sal ek die volledige resep Maandag vir julle gee, maar my ou maat, ‘n tagine is ‘n ding wat jy selfs ‘n tarentaal in kan sag kry, as jy nie een het in jou kombuis het nie, koop een, vandag nog, skaapskenkel of nek, beesvleis, hoender of vis, hulle werk in die ding van die Morakane, en tussen my en jou, vark ook, jy gaan net nie ‘n resep kry vir daai een nie, Moslem land daai, vir vark moet jy maar dat jou gevoel jou lei.

En as julle dalk wonder of daai ribbetjie gisteraand gebeur het, ja hy het, met growwe sout, peper en rosemary, vet lekker uitgebraai, met ‘n lekker skep kerrie boontjies en beet, heerlik man, heerlik.

Lekker eet

Potjie

Thursday, April 16, 2009

Vanaand het ek dink tyd nodig, more aand kom die helfte van my skoon familie by ons eet, en die helfte van my skoon familie is meer as die meeste mense se hele familie, skoon en andersins, nee regtig, geen grappies, 7 susters en 'n broer, nou tel kinders en mans en kleinkinders by, en ons is genoeg om 'n klein dorpie te beset.

Gister aand al daai stuk koedoe steak uitgehaal om te ontvries, vanaand bietjie olyf olie en suurlemoen sap bo oor gooi dat die outjies bietjie met mekaar kan gesels. Ek dink aan bitter sjokolade en chillie sous (verdun met rooiwyn) by die koedoe vir voorgereg.

Nou sal ek moet dink aan die hoofgereg, maar sal more vertel wat ek besluit het, ek moet nou 'n vuur gaan opmaak, en daai ribbitjie regkry. Dink tyd, rooiwyn tyd.

Lekker slaap
Net soos in die res van die lewe, werk ons planne in die kombuis nie altyd uit soos ons dit beplan het nie. Maar moenie dat dit jou onder kry nie, 'n bestandeel kort, kos wat nou gebruik moet word, res van die familie nie lus vir wat jy vanaand wil maak nie, ok, geen probleem, alles onder beheer, solank ons kan kook, het ons 'n lied in die hart.

My beter helfte gee nie gewoonlik te veel aandag aan wat in die kombuis aan gaan nie, of in die kos kas nie. Maar o wee, gisteraand stop sy by die winkel en besluit sy is lus vir pasta rys, en koop toe sommer 'n blikkie sampioene (ag nee man), 'n sakkie tamatie en kruie sous (nee regtig, wie koop sous?), 'n pakkie maalvleis en die pasta rys.

Liefie besluit toe, sy gaan net vinnig 'n draai by haar suster maak (dis nooit vinnig nie) en ek sien toe die gaping, en bied aan om maar die kos te maak terwyl sy weg is, wat dadelik met geen teenkanting aanvaar word nie.

Ok stap 1, maak die bottel Goatshed (daai rooi van Goats Do Roam waarvan ek gister vertel het) oop, en gooi in glas, ruik, bekyk, vat sluk, sug behaaglik, vat nog 'n sluk, kry kop skoon van dag se werk, en begin dink kos.

Kom ons kyk wat ons kan doen aan die saak, twee uie, a! hiers 'n groot groen soet rissie in die yskas, een pakkie swart olywe, sakkie cherry tematies, olyf olie, basil, origanum, sout, paprika en swart peper.

Die plan begin vorm aan neem, vat twee snye wit brood en gooi bietjie melk oor en laat week bietjie. Skil en kap die twee uie en die groen rissie, sit 2/3 van ui en groen rissie by die brood, asook die maalvleis, onpit en gekapte olywe, eier, bietjie paprika, sout en peper, meng en maak klein frikkadelletjies, as dit bietjie nat is en nie lekker bind nie, gooi bietjie broodkrummels by.

In 'n pan of pot wat jy in die oond kan sit, gooi olyf olie, omtrent so 100ml of meer, braai die tamaties tot die skille bars en die sous begin uitloop, gooi die uie en groen rissie wat nie in die frikkadelle gebruik is nie, in die sous en braai tot gaar, gooi daai blikke sampioene in en braai, gooi die pakkie sous wat vroulief gekoop het in die pan en laat alles lekker deurkook, gooi sout. peper, origanum en basil na smaak by, wanneer die sous lekker deurgekook is, sit die frikkadelle in die sous. As die sous te dik of droog lyk, gooi van jou rooiwyn daarin, ek doen dit in elk geval. Sit die pan in 'n voor verhitte oond van 180Grade en bak so 30 minute, tot die frikkadelle gaar is. Kook die pasta rys volgens die aanwysings op die pakkie.

Besluit of jy nog 'n bottel wyn gaan oopmaak. Bel jou vrou by haar suster en se die kos is gaar. Skep die pasta rys in borde, en skep frikkadelle en sous bo oor.

Lekker eet.

Wednesday, April 15, 2009

Pasta klink vir my na 'n goeie plan vanaand, so tussen 300 en 350g meel, bietjie sout en drie groot eiers, maak holte in die meel, gooi eiers in, klits die eiers en meng met die meel, lekker stywe droe deeg, onthou die deeg moet deur die pasta masjien gaan, so hy kannie nat wees nie, nou laat hom so rus vir 'n uur in die yskas toegedraai in clingwrap. As die deeg te droog is gooi bietjie water by, maar voeg bietjie vir bietjie by, niks meer as 'n teelepel op 'n slag nie.

Siende dat ons nou 'n uur het om te wag, kom ons maak 'n bottel wyn oop en dink oor die sous, daai bottle Goats do Roam rooi wat ek nou die dag 3 vir R50 gekoop het sal vanaand die ding moet doen. Ok, tamatie sal die basis wees, ek is nie 'n room man nie, nie in kos nie, van daai swaer van my 'n klomp room gegooi het oor die snoek terwyl hy hom braai kon ek nooit weer my so ver kry om room saam met kos te eet nie. Swart olywe, kappertjie saad, anchovies, rissies, swart peper, so skoot of twee van die rooiwyn, en twee blikke gekapte tamaties, alles in 'n pot en kook dit, so uur lank. Wanneer die tamatie sous so lekker donker word, dan gooi ons dit in die voedsel verwerker en maak die sous lekker glad, net soos daar by die Italiaanse restaurant.

Maar terwyl die sous nou so stadig prut, en die bottel rondlopende bokke begin einde se kant toe staan (ons het mons daarvan in die kos gegooi) kom ons begin met die pasta, breek so derde van die deeg af en sit die res terug in die yskas, begin op die grootste verstelling van die pasta masjien en rol 'n klomp keer deur, so 7 tot 10 maal, dan een keer tot by die kleinste of 2de kleinste verstelling, net soos jy daarvan hou, sit die pasta snyer gedeelte op die masjien en sny jou pasta, doen dieselfde met die res van die deeg.

Kook hom nes droe pasta net vinneger, die boks van my masjien se so 3 minute, maar ek sou se meer na 5 se kant toe, op my stoof is hy nog rou na 3 minute.

Dreineer pasta, gooi sous oor, se jy's jammer jy het die kombuis so bemors, en maak nog 'n bottel wyn oop, after all ons het net R50.00 vir drie betaal.

Lekker eet
Die groot vraag, elke dag, wat eet ons, vir party is dit waarna hulle uitsien die heel dag, die oplossing op die vraag, 'n blye vooruitsig om werk agter te laat, voor die potte, of vuur in te skuif en te begin met die hoogtepunt van die dag, om ander gelukkig te maak (en ons self) met kos. As jy een van die is wat uitsien na kosmaak, wat naweek beplan rondom vriende kos en wyn, dan is ons van dieselfde wilde hen se kuikens, as jy elke dag opsien na wat jy gaan maak om te eet, hou verby, jy is nie van my kerk se mense nie, hier eet en drink ons omdat ons wil, nie omdat ons moet nie, ons leef om te eet, eet nie om te leef nie. As jy nog steeds lees, welkom in my wereld.

Potjie